In 1998 het ‘n groep Afrikaanssprekendes
die ACK in Auckland gestig. Hulle het gevoel
dat hulle hul Christenskap ten beste kan uitleef met
geloofsgenote wat hul moedertaal deel.
Die oorspronklike lede het in Suid-Afrika aan verskillende kerkgenootskappe behoort maar deur die Here se genade kon hulle afsien van die verskille wat dikwels skeiding maak tussen Kerke in Suid-Afrika. Deur te konsentreer op die wesentlike van kerkwees kon hulle binne die ACK as ‘n eenheid funksioneer. Die ACK het vinnig gegroei en het nou verskeie Gemeentes in Nieu-Seeland.
Die Auckland Gemeente het
in Maart 2007 afgestig van die North Shore gemeente
as gevolg van groeiende getalle en ook om 'n
preekpunt te voorsien vir lidmate met 'n behoefte
aan 'n meer gewyde atmosfeer in die erediens.
Die eredienste in hierdie
Gemeente volg die Gereformeerde liturgie en daar
word grotendeels uit die Liedboek gesing. Die
prediking, volgens die Woord, en ons
belydenisskrifte, is die belangrikste en sentrale
aspek van die erediens.
Die Gemeente bestaan uit
gesinne uit verskillende ouderdomsgroepe. Daar
is geloofsonderrig vir kinders op Sondae en sosiale
aktiwiteite vir alle ouderdomsgroepe. Almal is betrokke, al
is dit net om Sondag eers die stoele uit pak en dan
na die diens lekker te gesels oor ‘n koppie tee!





